Afrikana is U-I-T-eindelik klaar!

So Dames (en Here – dié van julle wat genoeg sin en styl het om belang te stel…. en ja,  dit sluit jou verseker in, my boetie) Afrikana is uiteindelik oop!

In my verbeelding hoor ek die klanke van juiging en feesvieringe. Ek sien in my geestesoog die welverdiende rus wat manifesteer as laatslaap en boeklees, koffie-in-die-bed en sommer net ‘n alles-omvattende gevoel van oorwinningsvreugde en saligheid wat my rooiwarm broei  terwyl ek net mooi niks doen nie….

Ag oukei. Miskien Vrydagoggend. Dit is immers my verjaarsdag, maar daarna is dit weer volstoom aan die gang want Afrikana is nog lank nie klaar nie! Daar is nog soveel idees wat in my kop rond warrel – soveel goeters om uit te toets en te probeer en soveel mense om mee te gesels oor nuwe moontlikhede en vennootskappe.

Intussen los ek die van julle wat nog die “Oor Afrikana”-bladsy gelees het nie om bietjie meer oor my hanskalwer uit te vind:

Dekor met Afrikaanse woorde op

Die Webwerf

Afrikana is ‘n aanlynwinkel gewy aan mooimaakgoed wat die Afrikaanse taal en kultuur vier. Soos so baie van die vroue-gedrewe klein besighede wat die afgelope paar jaar ontstaan het, het Afrikana begin met ‘n idee, ‘n gesprek om ‘n etenstafel en ‘n hart vol hoop en deursettingsvermoë. ‘n Paar maande en ‘n aantal amper-opgee oomblikke later en die Afrikana webwerf is uiteindelik ‘n werklikheid. Die hoop is dat dit sal aanhou groei as ‘n platform vir entrepreneurs en kunstenaars van alle ouderdomme en agtergronde om hulle “Afrikaans-sprekende” produkte te adverteer en verkoop – en sodoende ook ander vroue-gedrewe en tuisbesighede te help ontwikkel. So, as u of iemand wat u ken iets in die Afrikana lyn maak, kontak ons gerus – ons sal heel moontlik belang stel om dit op die webwerf te bemark.

Die Handelsmerk

Hand-aan-hand met ontwikkeling van die webwerf, het ons ook die afgelope maande geswoeg om Afrikana se eie dekor-reeks op die been te bring. My kreatiewe “uitlaatpyp” tussen al die admin van ‘n aanlynwinkel tot stand bring en bestuur, is die Afrikana reeks een wat fokus daarop om onweerstaanbare produkte te skep wat almal Afrikaans “praat”. Die basis produkte is duursaam en sover moontlik, Suid-Afrikaans, die ontwerpe is oorspronlik en die geskrewe woorde (met die uitsonderling van gewilde aanhalings) is my eie. Die visie is dat elke produk ‘n bekoorlike en tasbare blaadjie sal uitmaak van ‘n ewig-groeiende – tog onkonvensionele – Afrikana digbundel.

Groete, Adri Marais

Afrikana